Meer as 100 koorlede, sangers en ander musikante op die verhoog by die KKNK bring die liefdesboodskap van ’n jong digter in die oorspronklike werk “’n Blom in elke Vrou” jare na haar dood.

’n Hoogtepunt by vanjaar se KKNK-fees is beslis Petronel Baard se produksie “‘n Blom in Elke Vrou” en as jy nog nie kaartjies daarvoor bespreek het nie, moet jy vinnig spring.

Petronel tree op 3 April om 18:30 in die Oudtshoorn Burgersentrum saam met die Suid-Kaapse Kinderkoor, die Mosselbaai Strykensemble en haar eie orkes in dié produksie op.

By tye is daar meer as 100 koorlede, sangers en ander musikante op die verhoog wat in oorspronklike musiek en woordkuns onder meer die verhaal vertel van die jong skrywer-digter, Mardene Marais wat as ‘n RAU-student (nou UJ) oorlede is. Ter nagedagtenis is Cordis Trust aanvanklik as die Mardene Marais-gedenkfonds gestig. Oor die afgelope 23 jaar het dié trust verskeie skrywers, sangers, ander kreatiewes, projekte wat ‘n boodskap van hoop dra, en talle deernis-projekte, ondersteun.

“’n Blom in Elke Vrou” is ‘n ligte klassieke musikale en digterlike reis deur die vier seisoene met verwysings na plantegroei en plantname, inheems en seisoenaal aan Suid-Afrika. Die bekende tuinboukundige, Ernst van Jaarsveldt van Babylonstoren, het groot insae gegee en Madine Swart se pragtige boek “Flora se Geheime Taal” inspireer in die digterlike teks.

Petronel beskryf Mardene se skrywerk se invloed só: “Uit haar suiwer hart vloei kristalhelder geskrifte wat in trefkrag bly staan. In tragiese verplanting het sy soos ‘n spreekwoordelike saadjie in die grond geval en gesterf, om weer te kan ontkiem in suiwer inspirasie vir so baie mense, lank na haar dood. Dit is die grootste liefde wat daar is, die grootste erfenis ook”.

“Die teks is ook vervleg met my eie stories, seisoene en musiek sover terug soos my studentejare wat nog nooit vir produksies gebruik is nie.”

Cordis Trust is trots op sy hoofborgskap van Petronel se produksie. “Dis ‘n produksie wat daarop fokus om hoop te bring in ‘n tyd waarin mense dit werklik nodig het,” sê dr. Fanie Marais, uitvoerende trustee van die Cordis Trust.

Kry nou jou kaartjies by of jou naaste Pick n Pay of koop aanlyn op Webtickets by https://bit.ly/blomkknk.