Radio-aanbieder, liedjieskrywer, sanger
Frieda van den Heever

Die bekende radio-aanbieder en regisseur, Frieda Van Den Heever, het pas na sy met die Orde van die Beiteltjie vir 2020 vereer is, gesê sy kan nie haar lewensleuse op ’n beter manier verwoord nie en as sy dié doelstelling van die Cordis Trust op enige manier regkry, is sy baie dankbaar.
“Vir my, omdat ek om ’n rede hier in ons land gebore is – en Afrikaans praat – om ’n rede, is dit die taal waarin ek werk. Soos NP van Wyk Louw gesê het is daar iets in ons kultuur en ons taal wat die kultuur en die lig en verligtheid van Wes-Europa én dan die magiese van Afrika vermeng. Sellulêr en serebraal binne-in ons.”
“Ons het ’n spesiale taak as mense wat Afrikaans praat. Ons dra dit al klaar in ons taal om hierdie boodskap van hoop en van radikaal verskil – maar dat ons ons verskille moet en mag vier – te bring.”
Frieda, wat onder meer die weeklikse programme “Vers en Klank” en “Kortom” op RSG aanbied, het gesê sy is dankbaar dat iemand soos Dr. Fanie Marais, Uitvoerende Trustee van die Cordis Trust, mense hoop gee en nie die geestesdimensie vergeet waarmee ons besig is nie. “Ook om in ’n jaar soos 2020 die teater van die lewe te vier en dit na mense toe te bring.”
2020 – Orde van die Beiteltjie
2021 – Cordis Trust Ererol
“Ek kan nie dink aan iets meer betekenisvol as Cordis Trust se doelstelling om ‘deernisvol te skep in Afrikaans en geesteshoop te bring’ en dat die Orde van die Beiteltjie daarvolgens toegeken word nie.”
Frieda van den Heever








