Johan Allers met Orde van die Goue Pen vereer
Johan Allers, oud-SAUK-joernalis en aanbieder van die radioprogram AllesAfrikaans, is in Augustus 2022 met Cordis Trust se Orde van die Goue Pen vereer.
Die gesogte toekenning is deur die Afrikaanse Woordkunsakademie, wat deur die Cordis Trust bedryf word, aan Allers oorhandig vir sy hoogstaande joernalistieke werk en bydrae tot Afrikaans.
“Deur sy lojaliteit, harde werk, opofferings en veral vir sy liefde vir Afrikaans vereer die Cordis Trust Afrikaanse Woordkunsakademie hom met die Orde van die Goue Pen – vir uitmuntende aktuele joernalistiek en die uitbou en verryking van Afrikaans, deur die skep van blootstelling en mediadekking vir bydraes van talentvolle woordkunstenaars, m.b.t. prosa, poësie, sang en drama.
“Dit is ’n welverdiende eer, maar ook ’n beëdiging van ’n suksesvolle visie waarin ’n droom, groter as hyself, tot gestalte kom. My hartlike gelukwense,” het dr. Fanie Marais, uitvoerende trustee van die Cordis gesê. Allers, wat die afgelope 30 jaar in Amsterdam, Nederland, woon, het voorheen in 54 lande as buitelandse korrespondent vir die SAUK gewerk. Hy beskou sy onderhoude met onder andere Kof Annan, Boutros Boutros Ghali (elkeen voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies), Tony Blair, en Martti Ahtisaari, voormalige president van Finland en ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, as hoogtepunte van sy loopbaan.
Allers is deur Marais genader om ‘n bydrae te lewer vir die digbundel Gelykmaker, wat oor die Covid-19-pandemie handel. Hy bied ook weekliks sy radioprogram AllesAfrikaans aan wat deur verskeie plaaslike radiostasies uitgesaai word. Die program word in samewerking met Ns. Skrywershuis vervaardig.
“Ek was skielik weer by die huis. Tuis in my taal. Dit is Cordis Trust, Marais, die digter Myra Lochner en die skrywer en uitgewer Nico Schamrel wat my geïnspireer en gemotiveer het om weer agter die mikrofoon in te skuif. Ná al die jare is ek weer terug by my groot liefde, my taal radio.”











