’n Eerste toekenning het ’n spesiale plek in jou huis en jou hart
“Jy droom daaroor om ’n toekenning te ontvang as jy klein is. Dat ek nou ’n eerste toekenning ontvang, is vir my regtig ’n groot oomblik.”
Só het die sanger, liedjieskrywer en akteur, Steffie le Roux, gesê pas nadat sy met een van die Ordes van die Beiteltjie vir 2020 deur die Afrikaanse Woordkunsakademie van die Cordis Trust bekroon is.
Volgens Steffie is dit vir haar ’n voorreg om in Afrikaans te kan werk en te kan skep. “Ek is Afrikaans, het op Oudtshoorn grootgeword in ’n goeie gemeenskap , en ek dink nie daar is ’n lekkerder en mooier taal as Afrikaans nie.
Dit praat, sê, vertel en voel só lekker. Ek is baie trots en dankbaar dat ek soveel geduld het. Om in die bedryf te wees as ’n sanger en ’n akteur is nie altyd maklik nie, maar dit is tog ook ’n lekker en goeie pad om te stap. Jy leer baie, en ontmoet wonderlike mense.”
Volgens Steffie kom jy soos jou loopbaan vorder tot die besef dat dit wat jy doen, en hoe jy dit doen, eintlik goed genoeg is. “Daarom is hierdie toekenning ’n groot eer. Dit wys daar is mense wat sien wat ek doen, wat daarvan hou, daarin glo, en dit waardeer.”











