Rigtingwyser wat aanwys jy is op die regte pad
“Dit is een van die rigtingwysers wat aanwys jy is op die regte pad en jy moet aanhou om dit te doen.”
Die sanger, liedjieskrywer en digter, Deon Meiring, het gesê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. ’n Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee hy pas bekroon is, is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou.
“Dit vra dapperheid. Baie keer raak mens ontmoedig en wonder of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie? Maar as iets soos die Beiteltjie-toekenning egter kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”

Deon, wat bekendheid verwerf het met die Afrikaanse rockgroep Glaskas, se nuutste musiek is die tema-musiek van die reeks Kompleks op Kyknet. Hy stuur ook weekliks ’n “brief” uit in teks en video op e-pos en sosiale media. “Ek skryf ’n brief sonder ’n koevert en sonder ’n adres en ek glo dit sal sy altyd sy bestemming bereik. Dit is hoe dit is om liedjies en gedigte te skep. Baie keer skryf jy dit, maar jy weet nie by wie dit gaan beland nie. Daarom is die rigtingwysers langs die pad nodig.”

Volgens Deon is hy opgewonde hoe Afrikaans al wyer word en verdiep. “Afrikaans is so divers en kom uit verskillende gemeenskappe, mense, ouderdomme en kulture wat in Afrikaans praat, skryf en skep. Dit maak my opgewonde. Om met ’n Beiteltjie raakgesien te word, beteken regtig baie.”









