Afrikaans se verandering is teenvoeter vir stagnasie
“Namibië beskik oor digters en skrywers wat met Afrikaans kan toor.”
Dr. Chrisna Beuke-Muir, senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië en stigter van die Windhoek Woordfees, het gesê die internasionale mark beskou dikwels Namibië as bydraend tot Afrikaans, en Suid-Afrika as die kern van die Afrikaanse taal.

Dikwels word buite sig gelaat watter dimensie Afrikaans in Namibië aan die groter prentjie van Afrikaans gee.
“Dikwels word buite sig gelaat watter dimensie Afrikaans in Namibië aan die groter prentjie van Afrikaans gee. Die waarde word ook bewys in die bundel ‘Land onder Woorde’ waarin 14 digters en 12 kortverhaal skrywers omgaan met die hartklop van die lewe in ons mooie dorre land.”
Volgens Chrisna bewys die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee sy pas vereer is, juis die uitnemende rol van woordkunstenaars in Namibië. “Die toekenning is ook ’n toekenning aan die digters en die kortverhaalskrywers van ‘Land onder Woorde’. Vir my is die toekenning ’n stootjie in die rug wat my vorentoe laat beweeg vir die dag as ek nie so seker is van myself nie.”
“Ek is gelukkig om met Afrikaans, die taal van my ma, my brood te verdien. Behalwe as sê-instrument in ons hande, staan ons taal wydsbeen oor twee kontinente. Dit maak dat ek huil as ek in Nederland in ’n katedraal na klassieke musiek luister, en dat my hart ruk van ekstase as ek terugkom op die lughawe in Namibië en ek hoor die tromme van Afrika en my eie klanke.”

Volgens Chrisna is die indruk dat Afrikaans ‘n maklike taal is, nie noodwendig reg nie. “Dat Afrikaans verander, is wel ’n feit. Verandering is ’n teenvoeter vir stagnasie en inperking. Al dié aspekte saam maak die toekenning vir my ontsettend besonders.”
Die gesogte Ordes van die Beiteltjie word deur die Woordkunsakademie van die Cordis Trust toegeken. Vanjaar se ander ontvangers is Frieda Van Den Heever, Ilse Oppelt, Petronel Baard Frazer Georgio Barry en Deniel Barry, Deon Meiring en Steffie Le Roux.









